Economic and Management Sciences
Permanent URI for this community
Browse
Browsing Economic and Management Sciences by Subject "A multi-cultural model of stress"
Now showing 1 - 1 of 1
Results Per Page
Sort Options
Item Open Access Verskille in werkstres en psigiese uitbranding tussen blanke-en swart middelvlakbestuurspersoneel in 'n Suid-Afrikaanse diensorganisasie(University of the Free State, 1998) Pienaar, Jacobus Willem; Van Zyl, E. S.Afrikaans: Die doel van hierdie studie is om ondersoek in te stel na die verskil in voorkoms van werkstres en psigiese uitbranding tussen blanke- en swart middelvlakbestuurspersoneel in 'n Suid-Afrikaanse diensorganisasie. Uit 'n beskouing van stres-literatuur blyk dit dat stres, werkstres en psigiese uitbranding nie net wêreldwyd nie, maar ook in Suid-Afrika aan die toeneem is. Dit word deur finansiële, organisatoriese en menslike uitgawes verbonde aan stres, werkstres en psigiese uitbranding, beklemtoon. Veranderinge binne veral die Suid-Afrikaanse politieke- en ekonomiese arena het daartoe bygedra dat Suid-Afrikaanse diensorganisasies genoodsaak word om 'n meer verteenwoordigende werksmag daar te stel, wat daartoe lei dat daar, onder andere, toenemend meer swart bestuurders in diens geneem word. Aangesien daar vroeër in Suid-Afrika nie veel aandag geskenk is aan hoe die swart bestuurder werkstres en psigiese uitbranding in vergelyking met sy blanke eweknie ervaar nie, bestaan daar tans 'n beperkte aantal literatuur rakende die oorsake van werkstres en psigiese uitbranding vir hierdie groep. Daar is dus besluit om ondersoek in te stel na die verskille in werkstres en psigiese uitbranding tussen blanke- en swart middelvlakbestuurspersoneel, ten einde 'n data basis vir toekomstige navorsing daar te stel, asook om organisasies in staat te stel om voorkomend op te tree. In hierdie studie word stres en meer spesifiek werkstres, asook psigiese uitbranding as vertrekpunt gebruik en as sistemiese verskynsels bespreek, ten einde aan die doel van studie te kan beantwoord. Die invloed van ras op die belewing van stres, werkstres en psigiese uitbranding word aan die hand van 'n multikulturele model van stres beskryf en verklaar. 'n Populasiegrootte van 387 middelvlakbestuurspersoneel uit 'n Suid-Afrikaanse diensorganisasie is as proefpersone by die studie ingesluit. Van Zyl & Van der Walt (1991) se Werk- en- Lewensomstandighedevraelys is gebruik om stresvlakke en bepaalde stressors te meet en Maslach se Uitbrandingsvraelys (Maslach & Jackson, 1981a) is aangewend om die vlak van uitbranding te bepaal. Statistiese verwerking van gegewens wat van die 387 vraelyste verkry is, is met behulp van die SPSS rekenaarprogram (SPSS, 1993) gedoen. In hierdie skripsie word daar van beide beskrywende- en inferensiële statistiek gebruik gemaak om aan die daargestelde doelwit te voldoen, nadat daar getoets is of die inferensiële statistiese metodes voldoen het aan die statistiese aannames onderliggend aan die gebruik van hierdie metodes. T-toetse en kovariansie-analise is geëvalueer vir gegroepeerde data ten einde beduidende verskille waar van toepassing tussen groepe aan te toon. Daar is statisties beduidende verskille in gemiddelde tellings ten opsigte van werkstres en psigiese uitbranding tussen blanke- en swart middelvlakbestuurspersoneel gevind. Vanuit die resultate blyk dit dat die swart groep statisties beduidend hoër tellings as die blanke groep op eksterne stressors, taakeienskappe, loopbaanaangeleenthede, sosiale aangeleenthede en depersonalisasie as bronne van stres, werkstres en psigiese uitbranding, behaal het. Die blanke groep daarenteen het statisties beduidend hoër tellings op emosionele uitputting as komponent van psigiese uitbranding as die swart groep, behaal. Na die integrasie van die data is daar tot die gevolgtrekking gekom dat maatreëls om werkstres en psigiese uitbranding by blanke- en swart middelvlakbestuurspersoneel te voorkom op verskillende vlakke van die sisteem ingestel sal moet word.